KLIM OP DIE BERG
- Past. Johnny Roberts
- Jun 12, 2024
- 5 min read
Updated: Jun 15, 2024
'n Reis van Geloof en Toewyding
Inleiding: Hier in die Wes Kaap is ons omtrent omring deur berge, en jy raak dit so gou gewoond. Ek voel veiliger tussen die berge, maar sien ook die uitdagings raak wanneer mens om dit, oor dit of deur dit moet reis. Dit herinner my ook aan ons geestelike reis - soms voel dit of ons nooit die einddoel sal bereik nie, maar met volharding en geloof, sal ons uiteindelik die vrugte van ons arbeid sien.
Berge in die Bybel: Die Bybel gebruik dikwels berge as simboliese plekke van openbaring, ontmoeting, en geestelike groei. Kom ons kyk na 'n paar merkwaardige voorbeelde:
Abraham: Abraham se geloof is op die berg getoets toe hy bereid was om sy seun Isak te offer (Genesis 22:2-14). Sy vertroue in God het hom deur die grootste uitdaging gedra. Dit is 'n kragtige herinnering dat ons ook ons geloof moet vertrou, selfs in die mees onmoontlike situasies. God is getrou en sal voorsien, net soos Hy vir Abraham gedoen het.
Moses: Op Berg Sinai het Moses die Tien Gebooie van God ontvang (Eksodus 19-20). Hierdie gebeure het God se leiding en liefde vir Sy mense bevestig. Dit herinner ons daaraan dat ons ook plekke van ontmoeting in ons lewens moet soek, waar ons stil kan word en na God se stem kan luister.
Elia: Elia het God se krag ervaar op Berg Karmel, waar hy die profete van Baäl oorwin het (1 Konings 18). Te midde van valse profete en twyfel het Elia op God vertrou en God het hom nie teleurgestel nie. 'n Vuur van die hemel het neergeblaas en die offerande verbrand, wat God se mag bewys het. Hierdie verhaal moedig ons aan om op God te vertrou, selfs wanneer ons voor groot uitdagings staan.
Jesus: Die verheerliking van Jesus op die berg het Sy goddelike natuur aan Sy dissipels geopenbaar en Sy identiteit as die Seun van God bevestig (Markus 9:2-8). Die dissipels het 'n blik gekry van Sy ware glorie en goddelikheid. Dit was 'n bevestiging van alles wat Hy geleer en gedoen het. Ons word ook genooi om hierdie oomblikke van goddelike openbaring in ons lewens te soek, waar ons dieper insig in Jesus se ware aard kan kry.
Berge as Geestelike Toetsing: Die berge wat ons in die lewe teëkom, is nie net fisiese uitdagings nie, maar ook geestelike toetsings. Josua en Kaleb het enorme struikelblokke in die gesig gestaar toe hulle die Beloofde Land moes inneem. Hulle het nie teruggestaan nie, maar met geloof en moed voortgegaan. Hierdie voorbeeld inspireer ons om ons eie 'berge' met dieselfde vasberadenheid te benader, wetende dat God met ons is in elke stap van die pad.
Berge as oorgangspunt: Berge is nie net plekke van ontmoeting met God nie, maar ook plekke waar ons geroep word om uit ons gemaksone te tree en uitdagings die hoof te bied. Hierdie roeping om die berge te klim, eerder as om dit te dra, is 'n lewensveranderende avontuur wat ons nader aan God bring. Nou dat ons die belangrikheid van berge vir God in die Bybel en ons lewe geïdentifiseer het, laat ons nou kyk na hoe ons hierdie roeping kan omhels en die berge kan klim wat voor ons lê.
Berge as Uitdagings: Josua se verhaal en die uitdagings wat hy en die Israeliete moes oorkom tydens die verowering van Jerigo bied baie inspirerende voorbeelde vir ons lewens vandag. Dit toon ons hoe ons op God moet vertrou om die berge in ons lewens te oorwin.
Ek wil begin by die groot uitdaging wat die volk in die gesig staar toe hulle die stad Jerigo moes inneem. Jerigo was 'n versterkte stad met hoë mure, en dit was 'n skynbaar onmoontlike taak om dit te verower. In plaas daarvan om op hulle eie strategieë te staatmaak, het Josua die Here se opdrag gevolg. Ek het die week ‘n video gesien waarin iemand die boodskap probeer deur kry hoe dit moontlik kon voel toe die Here vir Josua sê dat hulle moet vir sewe dae om die stad loop en dan eenvoudig op die mure skreeu! Ek is seker daar was twyfel by Josua oor hierdie opdrag en hy moes aanhou in sy kop herhaal: “Wees net sterk en vol moed!” Dink net hoe het die geklink toe hy dalk met sy leër owerstes gepraat het en hulle het uitgevra oor die plan. “Ons gaan skreeu vir die stad?!” “Wanneer die Here sê skreeu dan moet ons hard skreeu?!”
Kaleb was in die span. Hy het saam met Josua die land verken, en toe die ander tien terugkom met verhale van sterk stede, hoë mure en reusagtige soldate het Kaleb almal stil gemaak en gesê: “Laat ons gerus optrek en dit in besit neem; want ons kan dit sekerlik oorweldig.” Heelwat later in die boek van Josua dring Kaleb daarop aan op 85 jaar oud om die uitdagende bergland in te neem, en hy het dit gedoen met volle vertroue dat God hom die krag sou gee om suksesvol te wees. Ek gebruik baie hierdie voorbeeld vir mense wat dalk al oud en afgemat voel. Die berg bly net ‘n uitdaging totdat ons dit begin inneem. Die mure lyk sterk en hoog en onbreekbaar totdat die Here ons opdrag gee om daarop te begin skreeu!
Berge – ‘n Roeping en Geleentheid om te Groei: Dit het tyd geword dat ons anders begin kyk na berge in ons lewens. Berge in die Christelike lewe simboliseer 'n roeping en 'n geleentheid vir groei. Net soos bergklimmers wat die uitdagings van 'n berg trotseer om die top te bereik, word ons geroep om geestelike uitdagings aan te pak en ons vertroue in God te versterk. Kaleb se verhaal toon die oorwinning van berge as 'n geloofsreis. Sy vertroue in God het hom in staat gestel om die bergland in te neem wat God hom beloof het, selfs op 'n ouer ouderdom. Toe hy eers begin klim het, kon hy nie net moed opgee nie. Hy moes aanhou klim. Selfs om weer af te klim sou moeite verg.
Ek dra maar my laste... Ek wil vinnig met u praat oor twee alternatiewe uitkyke en moontlike opsies:
Dra jou berg: Die lewe kan vol laste, bekommernisse en probleme wees, maar dit is ons roeping om hierdie uitdagings te dra en daarmee om te gaan. Partykeer kyk ons na ons omstandighede en aanvaar maar dat dit ons lot is. Ek sien hierdie ongelooflike groot berge in ons lewe, en dan dink ons dat die Here verwag ons moet ons eie laste dra. Tel die berg op en dra dit rond! Hoeveel mense het jy al gesien wat dit doen? En hoeveel van hulle was al ooit suksesvol daarmee. Ons kan nie ons berge dra nie, hulle is gemaak om te klim, of in opsie 2 wys Jesus ons nog ‘n beter weg.
Praat met jou berg: Jesus se woorde in Markus 11:23 wanneer Hy sê: “Want, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir hierdie berg sê: Hef jou op en werp jou in die see — en nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, sal gebeur — hy sal verkry net wat hy sê.” leer ons dat ons die krag het om eenvoudig met ons "berge" te praat en hulle te verwyder. Hierdie "berge" kan enige hindernis in ons lewens wees, en deur geloof en sekerheid in ons harte, kan ons hierdie uitdagings oorwin. Dit gaan nie net oor die uitspreek van woorde nie, maar oor die geloof dat God by ons is en ons sal help om oorwinning te behaal.
Afsluiting: Die lewe is 'n reis vol berge om te klim, maar ons kan troos vind in die wete dat God altyd by ons is om ons te lei en te ondersteun. Soos Abraham, Moses, Elia, en Jesus, word ons geroep om ons geloof in God te vertrou en die uitdagings voor ons aan te pak. Wanneer ons die berge in ons lewens teenkom, moet ons onthou dat dit nie net fisiese uitdagings is nie, maar ook geestelike geleenthede vir groei en vernuwing. Laat ons elke berg met moed en geloof aanpak, wetende dat God ons sal help om die top te bereik.
Comments